Waarom skryf ek?
Ek het ‘n gevoel dit het met my geaardheid
en met my lewe te doen. Laasgenoemde het soveel vertakkings - my en M se
verhouding, Pa, my spiritualiteit, boeke en skrywers, die plaas, die
werkswinkel, flieks, houtwerk, die kerk, die fabrieke waarby ek kom, die
werkers, my familie en vriende, die honde, die natuur, kuns, plekke, musiek,
Biodanza, my rekenaar en die internet, humor, gereedskap, mense, my liefde vir
die TWO se geskiedenis.
Op enige gegewe tydstip is ek met een van
hierdie vertakkings besig, met inspeling van die ander in ‘n mindere of
meerdere mate, maar dit is tog net so dat die fokus telkens oorwegend op een
van hulle is. Hoe is hierdie verskillende fasette met mekaar verbind? Is daar
‘n verband? Waar vind die sameloop plaas?
Ek meen die sameloop is net op een plek -
binne my. Ek is die naaf waarin my belangstelling-speke saamkom. En die een
plek waar my belangstelling-familie mekaar sien en oor en weer gesels, is
wanneer ek skryf. Dáár hak hulle arms by mekaar in en sing hulle almal in ‘n
groter koor saam. Luister hulle trots hoe elkeen se bydrae noodsaaklik vir die
groter klank is en op watter verrassende maniere elkeen se uniekheid die groter
geheel verryk.
Wat die hele proses so verrassend en bevredigend maak, is dat daar behoorlik algaande gekomponeer word. Ek self het nie die betrokke musiekstuk klaar uitgewerk voor my wanneer ek gaan sit om te skryf nie. Ek tel ‘n noot, soms net ‘n nootjie, op die wind op, sit hom op die betrokke komposisie se bladmusiek neer. Dan nog een, en nog en nog. Die klank styg en swel, word vol. Wanneer ek oor die slang in my tuin skryf, laat dit my oupa en my ooms saamsing en Rilke en Genesis en Petra Müller, Liesbet, M, gewere en gevare. Almal, in stemme, wat uiteindelik ‘n elegie word.
Ek het gemeen dat wanneer ek oor die
ietjies skryf, dit ‘n solostuk gaan wees. Sy sal ‘n tree vorentoe op die
verhoog gee, onder die kollig in en alleen haar helder stem laat klink. Die
ander sal liefdevol, ondersteunend vanuit die donker in hierdie geval net
neurie, ondersteunende agtergrondsangers wees.
Toe werk dit nie heeltemal so nie.
Onverwags nie so nie.
Die verkleinwoordjies het lankal gevra om
geskryf te word. Dis darem nie van vandag af dat ek by die bank kom nie. En dis
daar waar hierdie raaisel homself aanhoudend aanmeld. Ek word aangespreek en
gehelp in sinne vol verkleinwoordjies.
“Waarmee kan ons help, meneer?”
“Ek wil net my onttrekkingslimiet
verhoog.”
“Sekerlik. Gee net meneer se kaartjie dan
kan ons op u rekeninkie ingaan en sien wat ons kan doen.”
“U wil die lemietbedraggie verander?”
“Dis reg.”
“Terwyl ek hier die nodige veranderinkies
doen, kan meneer net vir ons hierdie magtigingsvormpie invul. Dan teken meneer
net daar op die lyntjie.”
Terwyl ek my voorkeure aan haar deurgee en
sy - heel bekwaam moet ek sê - die nodige veranderinkies op my rekeninkie
aanbring, teken ek solank met my pennetjie op die lyntjie.
“So ja. Meneer sal nou die groter
bedraggie kan onttrek en meneer se pinnommertjie sal nou op die ander kaartjie
ook werk.”
Is my fondse regtig só min, my rekeninge
só oortrokke? My bydrae tot die bankwese in Suid-Afrika só gering? Maar sy soek
al my kaartjie nog voordat sy my rekeninkie met ‘n oog gesien het. Praat hulle
van my en herken my wanneer ek ingestap hom?
“Hier’s daai man met die rekeninkie weer.
Die een met die fondsies in.”
Gaan hulle op eendag opleidingseminare by
Hoofkantoor waar hulle dan ingelei word in die hele verskynsel van
kategorie-taal? Moet wees, want basies almal praat so.
“Kliënte met fondse in oortrokke rekeninge
of met klein gunstige rekeninge val binne die ietjie-kategorie. Aan hulle word
kaartjies uitgereik, saldo’tjies gegee en hul pinnommertjies gevra. Hulle moet
deurentyd weet ons weet. Indien ons waarde aan ons onderneming wil toevoeg en
‘n instelling van uitnemendheid wil wees, moet selfs ons taal as
aansporingsmiddel dien. Dooie hout moet uitgesny of op watter manier ookal
groen gemaak word.”
Dis wat ek dink. Ek voel darem so bietjie
beter toe sy vir die ou na my sê dat sy sal kyk of sy tjekboekie al gekom het.
Sy skeefgetrapte Grasshoppers by die vuil overall broek sit my egter weer
geweldig terug en help my selfbeeld niks nie.
So sing my ietjies toe haar stuk.
Sal daar toe nou nie, terwyl ek op die
internet na iets totaal anders soek, ‘n stem sommer so saam met haar inval nie?
Ek gryp vervaard na die bladmusiek. Daar is nêrens enige aanduiding dat hierdie
‘n duet is nie. Dis my ietjies se geleentheid. Maar sy en die ander stem sing.
En ek hou op bodder met die papiere en moontlike aanwysings, sit terug en gee
my oor aan hulle lied. My ietjies blom.
’n
Verkleinwoord, 3 ekstra letters
Dana Snyman
Dit gebeur mos
dikwels, veral oor die telefoon: Jy praat met iemand en wanneer julle klaar is,
sê die ander een: “Goed, ’n lekker daggie vir jou, hoor. Bye.”
’n Lekker daggie?
Hoekom is sommige
mense so lief om jou ’n lekker daggie toe te wens?
Hoekom nie sommer
net ’n dag nie?
’n Dag bestaan
tog uit 24 uur. Dit is nie asof daar ’n korter weergawe vir meer sensitiewe of
ouer mense is nie.
Jy kry nie, sê
maar, ’n vier-uur-dag vir mense met minder stamina nie.
’n Dag is ’n dag
is ’n dag.
Goed, om iemand
’n lekker daggie toe te wens, is seker net ’n fyner en, wel, meer vroulike
manier van dinge doen – ’n soort Biggie Best-tegniek om goeie wense oor te dra.
Ek kan my
beswaarlik voorstel Bakkies Botha of Julius Malema – of Helen Zille – sal aan
iemand sê: “Hê ’n lekker daggie, hoor!”
En daardie “hê”
is nog ’n ding. Ek het reeds die dag. Die dag – of daggie, as dit dan moet – is
klaar myne.
Dis nie nodig om
aan my te sê: “Hê ’n lekker daggie” nie. Asseblief.
Ek weet ’n mens
moet jou seker nie vervies vir sulke kleinighede nie. Dit gaan immers net oor
’n verkleinwoordjie, oor drie ekstra letters agter ’n drieletterwoord. En tog.
En tog.
Iets in my raak
dadelik vies as iemand by my kom met ’n lekker daggie wat ek moet hê.
Is dit omdat ’n
mens vermoed daardie persoon is dalk nie opreg nie?
Ek veralgemeen nou, ek weet, maar dit is dikwels iemand op ’n
skakelbord of iemand se persoonlike assistent wat jou so ’n lekker daggie
toewens. Leer hulle dit iewers op ’n kursus by die een of ander korporatiewe
Emsie Schoeman-agtige kommunikasiekon-sultant?
Dieselfde
konsultant wat hulle ook leer om te sê: “Goeie middag, dankie dat u geskakel
het” wanneer jy bel.
Ek bedoel, jy is, sê maar, ’n belangrike
prokureur se persoonlike assistent.
Dit is 14:30 op ’n
Donderdag en jy het reeds 84 oproepe beantwoord van mense wat óf diep in die
moeilikheid óf in ’n prosedeerbui is. En dan lui die telefoon weer en jy sê:
“Goeie middag, dankie dat u geskakel het”?
Kan dit wees
dat jy rêrig dankbaar is? Dan kry jy natuurlik op elke dorp ook vir Mevrou wat
jou ’n lekker daggie toewens. Mevrou se man besit drie ysterwarewinkels – hy is
nie meer ’n winkeleienaar nie, hy’s nou ’n sakeman. Mevrou woon in ’n huis teen
’n heuwel. Mevrou het drie Gucci-handsakke en loop nie ’n Huisgenoot-skouspel
mis nie.
Wanneer Mevrou jou dan ’n lekker daggie
toewens, weet jy sy bedoel eintlik haar dag is meer stylvol en vol
pottebakkersklasse as jou ou pleb-daggie.
’n Motorwag by die mall het ook onlangs aan
my gesê: “Ek hoop Meneer het ’n lekker daggie verder, hoor.”
Sonverbrand het hy daar voor my gestaan, met
’n paar voos Crocs aan die voete.
Ek het na hom
gekyk en toe tref dit my: Sy dag gaan lank en swaar wees, die son gaan hom looi
en almal gaan nie vriendelik met hom wees nie.
Het hy nie
eintlik net probeer sê my dag moet vroliker en ligter as syne wees nie, het ek
opeens gewonder?
’n Lekker daggie
vir u almal, hoor!
Beeld-deurloop
22 Feb 2011
Ek moet skryf. Dis dan wanneer ek sien wie
ek is, hoe die mees onverwagse klein dingetjie verskriklik delikaat in die
groter geheel, wat dikwels ook groter as ek is, ingepas word.
Ek dink ek skryf, omdat dit die meeste God
is wat ek ken.
George
Comments
Post a Comment