Wanneer iemand baie na aan
jou doodgaan, begin mens probleme met taal ontwikkel. Praat jy in die hede van
daardie persoon, of skakel jy oor na die verlede tyd? Sê ek byvoorbeeld my ma
het ‘n geel bak gehad? Die bak is nog hier in die huis, maar my ma is nie. Wie
bepaal die tydsgebruik, die besitter of die besitting? Toe my ma nog geleef het
was dit haar bak. Niemand het dit bevraagteken of die feit betwis nie. My ma
het dus ‘n geel bak gehad. Maar wanneer ek nou van die bak praat, hoe maak ek
dan? Na haar dood het die bak op geen stadium van eienaar verwissel nie. Die
breekware staan nog net so in die kaste. Ek sou daarom kon sê my ma het ‘n geel
bak. Sou iemand egter meer van die bak by haar wou weet, aangesien my
taalgebruik baie vatbaar vir so ‘n onskuldige versoek kon wees, waarheen verwys
ek hulle?
Nou systap ek die probleem
waarvoor ek nie ‘n bevredigende oplossing het nie deur te praat van Ma se bak.
Ma het ‘n pragtige blompot
gehad. Albei in die verlede tyd. ‘n Grote wat sy vir haar 21ste
verjaardag by die mense van haar werk gekry het. Dit was vir haar baie kosbaar
en die simbool van mooi herinneringe. Daar waar dit op die klavier in die
sitkamer van ons huis in die dorp gestaan het.
Een oggend - ek onthou dit
só goed; ek was seker so vier, vyf - het ek met ‘n tennisbal in die huis
rondgespeel en nie regtig op Ma se vermanings ag geslaan nie. In die sitkamer
het ek dit rondgegooi en die volgende oomblik tref dit die blompot wat van die
klavier af kantel en in skerwe op die vloer beland. Ek het my flou geskrik en
dadelik vreeslik sleg gevoel oor dit wat gebeur het.
Ma het die kabaal gehoor en
die sitkamer ingekom. Ek het gesê ek is vreeslik jammer. Ma het niks gesê nie,
net verslae by die skerwe gehurk en dit begin optel. Toe na my gekyk en gesê,
“Dis nie die ergste nie. Dis wêreldsgoed.” Wat dit presies beteken sou ek eers
later leer, maar ek het geweet sy probeer my troos en dit het my net nog
slegter laat voel oor dit wat ek gedoen het.
Ek het myself daardie
oggend voorgeneem dat ek nooit weer iets wat vir haar baie kosbaar is, sal
breek of beskadig nie. Ek het die bewaker van haar geel bak geword. Die
porseleinbak met die deksel wat sy as trougeskenk van oom Barry, die Italianer
wat saam met Pa gewerk het, gekry het. Help ek om skottelgoed te was of af te
droog, hanteer ek daardie bak met die grootste sorg en versigtigheid.
Ek was al groot, byna
volwasse, toe ek Ma eendag terloops vertel het van my voorneme daardie oggend
en hoe belangrik dit vir my is dat ek oom Barry se bak nie sal breek nie. Sy
het lekker gelag en gesê dit sal darem nou regtig nie die einde van die wêreld
wees nie en buitendien, dis wêreldsgoed.
Met die ouer word het ek
die waarheid van haar woorde al meer self leer ken en ervaar. Haar siekte,
aftakeling en pyn het die feit onderstreep dat daar baie groter dinge in ‘n
mens se lewe kan breek as ‘n jongmeisie se verjaardaggeskenk.
Tog wonder ek na haar dood
dikwels, waarom werk ek steeds so ontsettend versigtig met Ma se geel bak?
Comments
Post a Comment