Skip to main content

Per Definisie


Die volgende spruit voort uit ‘n gesprek wat ek en Matilda vroeër die week gehad het oor die Engelse woord peruse.

X:  Enige idee wat peruse beteken?
Y:   O ja, maar natuurlik!
   Peruse  s.nw, meervoudsvorm van ‘n Peroes, ‘n inwoner van Peru. Val binne die meervoudsvorm-groep van inwoners van ander Suid-Amerikaanse lande, bv. Brasille, Chillies, Venezuelle, Argentiniane (lg. o.g.v. historiese redes en Indiaanse bevolkingsamestelling  ’n uitsondering op ‘n alg taalreël waar s.nwe wat op – eindig gewoonlik -rs in die meervoud kry. Vgl. Indiërs, Albaniërsakniërs – al het dit nie met die uitleg op ‘n kaart maar meer met die topografie van ‘n gesig te make – en komitiërs in ‘n bestuurskonteks).
   Bg. variasie in meervoudsvorme om inwoners te beskryf is eie aan die uiteenlopende verbuigings van Latyn, die spreektaal in meeste van hierdie lande en ‘n bewys van Romeinse besetting. Dit het gevolg op die ontdekkings van Columbus en verklaar waarom die Rooms-Katolieke kerk vandag dominant in hierdie lande is.
    ‘n Interessante gegewe wat nie baie mense weet nie is dat die karnaval in Rio de Janeiro ook ‘n nalatenskap van die besetting van die Romeine is wat musiekgewys ook die Kelte beïnvloed het. Hulle het vir ‘n Skotse krygsgevangene ‘n doedelsak geleen om hom stil te kry tydens hul kampanië in Brittanië (let weer eens op die meervoudsvorme kampaniërs en Brittaniërs) en onbewus van dié se suinige inklinasies, nooit weer die instrument gesien nie. Wat natuurlik die afwesigheid van dié musiekvorm in die Latyns-Amerikaanse lande verklaar. Die Romeine kon laasgenoemde net leer dans.
    Vandaar ook die afwesigheid van enige musiekterme in Paulus se brief aan die Romeine. Dit bevestig akademici se vermoedens dat hierdie brief geskryf is na die grondlegging van die Keltiese spiritualiteit en dat Paulus as sendeling vir die heidennasies  en wat volgens Hand 22:21 baie vêr uitgestuur is, meer as net die Middelanse See bevaar het. Daar mag nie musiekterme in die brief aan die Romeine wees nie, maar die volstruisvere en bikinis (of gebrek daaraan) wat hy in die Brasille se strate tydens die jaarlikse karnaval gesien het vorm die agtergrond van sy mening in die begin van Romeine dat daai lot losses totaal by hulle some losgetrek en uitgerafel het. Hy het nie daarvan gehou nie.
     So, dit in kort, is dit. Indien jy my verklaring noukeurig en met belangstelling sou deurlees en bestudeer (‘n handeling waarvoor ek tot my frustrasie nie ‘n kort woord in enige taal kon vind nie! Ek is daarom besig om my eie term te ontwikkel. Iets in die lyn van “videoleer” van die Latyn vide wat kyk beteken en die Afrikaans leer wat leer beteken) kan dit net tot dieper insig in soveel van ons moderne praktyke lei.
      Jy sal daarom ook verstaan waarom ek altyd sê: gee my net die feite.

Ek het die stuk nie geskryf om te demonstreer dat ek snert vlot kan praat nie. Ek kan, maar dis nie waarom ek die stuk geskryf het nie.

Ek wil ook nie soos dominees van ouds, nadat die fliek in die ou skoolsaaltjie vertoon is, op die verhoog klim om die les aan die gehoor te verduidelik nie. Ek wil soos Harry Kalmer glo in my lesers.

Maar ek sou tog net dit wil sê:

‘n Feit is net ‘n feit as ons daarin glo. Vir eeue, voor Copernicus en Galileo Galilei, was dit ‘n feit dat die aarde die stil middelpunt van ons sonnestelsel is. Vir die kerk het dit selfs aan doodsonde gegrens om enigiets anders te verkondig wat daartoe kon lei dat dié feit in twyfel getrek sou word.

Strydig met die algemene opvatting spreek die feite gewoonlik nie. Ons spreek. Omdat ons nie dinge sien soos dit is nie, maar soos óns is. Die grootste guns wat ons die waarheid kan bewys, is om van ons brille waardeur ons kyk bewus te wees, dit te erken en in ons gesprekke en soeke altyd in berekening te bring.

Beteken dit dus dat alles relatief raak en dat ons glad nie meer op “feite” kan peil trek nie? Dis ook nie wat ek sê nie. Ek pleit eerder vir ‘n nederiger, oop gesprek waardeur ons by ‘n konsensus oor die waarheid kan uitkom.

Dalk wil ek eintlik maar net sê ek is moeg vir alle projekteerders, boelies, braggers, bamboozlers en ander smooth operators – dikwels in posisies van mag en gesag - wie se gladde tonge, selfvoldaanheid en luide stemme gereeld die meta-narratief bepaal en stuur. Geseënd is die stil meerderheid, want daar lê wysheid. Laat hulle gehoor word.

George

Comments

  1. Ek het jou woorde "bepeins" en nou soek ek nog 'n reaksie-blokkie wat sê: Inderdaad!

    ReplyDelete
  2. Vir iemand - en ek bedoel dit in die mooiste sin van die woord - wat snert kan waardeer as sy dit sien kan mens altyd 'n plan maak.

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Vanuit Die Restory - Gesprekke Tussen Reisgenote (110)

Die Week Na 'n Dood Sebastien op sy gelukkigste - by water, besig om vis te vang Die Gesprek Elemente Uit Die Gesprek Musiek Sebastien het altyd gesê, "I like old music.' Hy het. Billy Joel se Piano Man  was vir baie lank die ringtone op sy foon. Dat ons só gelukkig kan wees, dankie Sebas. George & Matilda  

Vanuit Die Restory / From The Restory (135)

  Onlangse Oorsig / Recent Summary  Foto's Van Onlangse Gebeure / Pictures Of Recent Events 'n Huis opgeknap en geverf met 'n nuwe badkamer, die koms van lente en reën, retreats, die CMR se breimarathon, aanbied en afsluiting van die Verfrissingskursus in geestelike begeleiding, bywoon van ons kleindogter Ariana se gradeplegtigheid ("Nee Oupa, dis 'n gradige plegtigheid!") voordat sy volgende jaar grootskool toe gaan. A house renovated and painted with a new bathroom, the arrival of spring and rain, retreats, the CMR's knitting marathon, presenting and finishing the Refresher course in spiritual guidance, attending our granddaughter Ariana's graduation before she goes to big school next year. Klank / Sound Die klank van sagte reën na die storm is op baie vlakke nou gepas. The sound of gentle rain after the storm is now appropriate on many levels. Met ons liefde, soos altyd. With our love, as always. George & Matilda

Vanuit Die Restory - Gesprekke Tussen Reisgenote (120)

Skuld as Motivering Die Gesprek Elemente Uit Die Gesprek ~ ❖ ~ "I am convinced that guilt and shame are never from God. They are merely the defenses of the False Self as it is shocked at its own poverty — the defenses of a little man who wants to be a big man. God leads by compassion toward the soul, never by condemnation. If God would relate to us by severity and punitiveness, God would only be giving us permission to do the same (which is tragically, due to our mistaken images of God, exactly what has happened!)." Richard Rohr                 ~ ❖ ~ "It is about as hard to absolve yourself of your own guilt as it is to sit in your own lap. Wrongdoing sparks guilt sparks wrongdoing ad nauseam, and we all try to disguise the grim process from both ourselves and everybody else. In order to break the circuit we need friends before whom we can put aside the disguise, trusting that when they see us for what we fully are, they won't run away screaming with, if nothing wors