Foto: George Angus
Die ou huis waar ons besig is om stuk-stuk in te trek het vir goed vier jaar of langer leeggestaan. Oom Koekies en tannie Joey wat lank daar gebly het,
het aftree-oord toe verhuis nadat tannie Joey siek geword het. Na hulle het
daar nie weer iemand daar gebly totdat ons gekom het nie.
Maar ons misgis ons. Daar was ander inwoners.
Vrydagaand met die aankom daar, het ons die bokkie vlugtig in die
bakkie se ligte gesien. Saterdagoggend baie vroeg, terwyl ek in die
oggendskemer met my koppie koffie voor die venster staan, kom hy in die kampie
direk teen die huis ingehardloop, soek vir ‘n tydjie ernstig na ‘n uitgang en
glip toe deur die opening in die draad, oor die oop werf die bosse in.
Saterdagmiddag, toe ons teen skemer van oupa Frans in die aftree-oord op die
werf terugkom, staan hy rustig en wei in die kort grassies voor die ou
waenhuisdeur. Ons het die bakkie afgesit en net lank na hom sit en kyk. Dit wil
soos ‘n vaalribbok lyk. Of dalk ‘n steenbokkie. Ons sal in elk geval nog baie
van hom sien.
Saterdagoggend, terwyl ek besig is om te was, kom die piepklein
skeerbekmuisie die badkamer ingehardloop. Hy was al ‘n hele ent in voordat hy
skielik vassteek en behoorlik vir homself sê: “Blikskottel! Hier’s ‘n vreemde
ding in my speelplek!” Toe spring hy net daar om en hardloop so vinnig as wat
sy beentjies hom kan dra uit en deur die skrefie in die stoepvertrek.
Die naweek en die ou kliphuis met sy werf het omtrent Afrikaanse liedjies en gedigte
vir my losgewoel. (Vgl. Windpompingenieur). In hierdie geval was dit D.J.
Opperman se Edms. Bpk. wat daar op Wakkerstroom aan die gang gesit is en
hierdie hele week so op die agtergrond in my kop bly maal.
Ek het ’n stukkie grond gekoop
met melkhout op; dit
afgekamp
en teen die hek ’n naam
geverf
sodat verbygangers besef:
Dis Dirk se erf.
Janfiskaal sit op my
melkhoutboom,
sit op ’n kruin, sit op ’n
rots,
en proklameer, in sy lied
soggens en saans luidkeels,
“Dis my gebied.”
Bakkapel glip uit my
melkhoutbos,
verby die kruin, verby die
rots,
en teken op sandkolle waar
hy kom
oral in ouderwetse skrif:
“Alles… alles my eiendom.”
Ons sê so maklik
“myne” en “ons s’n”. Ons eien toe en steek kleim af en vergeet dat ons deel en
leen. Ons mislei onsself. Ons besit is beperk.
Daarom, op
daardie werf en stukkie aarde wil ons leef en dink en optree onder die leuse:
Híér is baie onse in ons pond. Hier’s plek vir man en muis.
Sal ek toe nie ook juis hierdie week, net om die spyker behoorlik om te
klink, deur Lyanda Lynn Haupt op facebook voorgestel word aan ‘n pragtige
fotoboek nie! Die Finse fotograaf Kai Fagerström het begin om enkele foto’s te
neem van die diere wat mettertyd hul intrek in verlate kothuise in die woud
naby sy somerwoning geneem het. Dit het ontwikkel in ‘n hele fotoreeks wat
uiteindelik as The House in the Woods
gepubliseer is. In die woorde van Fagerström: “Deserted buildings are
so full of contradictions. I am fascinated by the way nature reclaims spaces
that were, essentially, only ever on loan to humans.”
Ons stem.
George
Comments
Post a Comment