Skip to main content

Psalm

Fotograaf: Matilda Angus

Dreinpype, filters, vernis, klampe, skarniere, plankvloere, venstermeganismes, saag, skuur, meet, vasdraai, losdraai, opvul, verf… Die elemente en aktiwiteite van my dae die afgelope paar weke. Dis oor die algemeen die elemente van my dae, maar die laaste paar weke nog meer en intens so. 

Ek weet dat “doodgewone” werk heilig is. Dis een van die hoekstene van ons geloof en leefwyse hier op Barrowfield. Dis beslis nie die eerste keer dat ek daaroor skryf nie en ‘n wesenlike kwessie wat vir my geweldig belangrik is. Dis vir ons tragies wanneer ons sien en hoor dat die uitleef van die Christelike geloof beperk en opgebind word in kerklike dienskommissies, Bybelstudies, gemeentelike aksies en ander aktiwiteite waaraan die etiket “godsdiens” mettertyd maklik gehang kon word. Niks het gebeur wat my siening verander het nie. Dis steeds aan die een kant dinge waaroor ek jammer is en aan die ander kant dinge wat ek weet en glo.

Tog betrap ek myself die laaste ruk dat ek half moedeloos raak met al die alledaagse en gewone werk wat gedoen moet word. Al sê ek vir myself dat dit ook ‘n “hoër doel” dien omdat ons dinge hier so wil inrig dat dit vir die mense wat vir retreats kom goed en lekker sal wees. Maar dit vat soveel van my tyd en energie dat ek nie by skryf uitkom nie. Asof dit die bepeinsing en beskrywing nodig het om tot heiligheid gefilter te word. Anders is dit maar net werk.

So loop ek met die gevoel en onderliggende frustrasie. Sonder dat ek mooi weet hoe om anders te voel en te sien.

Gisteraand kyk ek en Matilda die rolprent Chef waarin die kok Carl Casper (Jon Favreau) met kos toor. Maar dis die toneel waar hy vir sy 10-jarige seun ‘n kaastoebroodjie rooster wat my bybly. Al sy aandag, al sy jarelange ervaring, is op daardie enkele handeling gefokus. Op daardie oomblik vervaag alle ander dinge en skuif dit op die agtergrond. In die smeer van die botter, die voel van die rooster se hitte, die skuif van die brood, die sis met die omdraai, in die uiteindelike eet met kaas wat verruklike lang drade trek, weet jy dat jy iets heiligs aanskou. En dat die Woord van die Here in baie gedaantes na ons toe kom. Skille het weer eens van my oë geval, goddelike vingers is in my dowe ore gedruk.

Vanoggend is die eerste vers van ons dagpsalm ingesit deur die geklingel van Stefan en Absalom se melkemmers wat onder van die melkstal opklink. Spene wat getrek en gelos word, getrek en gelos word is tamboeryn en simbaal wat ritme hou. Die appels en papaja wat ons vir ons vrugteslaai-ontbyt opsny het die tekstuur van nagmaalbrood. Die vernis van badkamerdeure is werk aan tempelpoorte.

Ons dagpsalm swel en styg met die koor van Sagaria 14:20-21, “Daardie dag sal daar op die klokkies aan die perde se tuie staan: “Gewy aan die Here”, en die potte in die huis van die Here sal net soos die offerkomme by die altaar wees. Elke pot in Jerusalem en Juda sal aan die Here die Almagtige gewy wees.” En die fyn melodie word gedra deur die wete dat daar heel waarskynlik, eenmaal in droë Palestina, ‘n bankie was wat Jesus, seun van Josef die timmerman, Seun van God, gemaak het.

Klein Ballade 
Ek soek die huis van die timmerman,
ek soek die tafel, die eenvoudige gedekte,
en die bêreplek van die botterspaan
van Maria die Onbevlekte.
 
Ek soek die dinge van hulle elke dag,
ek soek die praat en die maklike lag
In daardie gebenedyde huis;
 
Neem hierdie pad, klop aan die deur,
na buite toe dwaal ‘n varsbroodgeur,
en sê nou hulle is tuis?
 
My moed begeef my en ek vlug,
maar iets sê in my gaan trug, gaan trug:
Sy staan reeds in die deurkosyn…
 
Toe draai ek om en ek vind verstom
ek het voor my eie deur gekom:
my huis is Hare, my huis is Syne!
 
Nou ken ek die huis van die timmerman,
ek ken die tafel, die eenvoudig gedekte,
en die bêreplek van die botterspaan
van Maria die Onbevlekte.

                                                   Sheila Cussons

George




Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog

Vanuit Die Restory - Gesprekke Tussen Reisgenote (110)

Die Week Na 'n Dood Sebastien op sy gelukkigste - by water, besig om vis te vang Die Gesprek Elemente Uit Die Gesprek Musiek Sebastien het altyd gesê, "I like old music.' Hy het. Billy Joel se Piano Man  was vir baie lank die ringtone op sy foon. Dat ons só gelukkig kan wees, dankie Sebas. George & Matilda  

Vanuit Die Restory / From The Restory (135)

  Onlangse Oorsig / Recent Summary  Foto's Van Onlangse Gebeure / Pictures Of Recent Events 'n Huis opgeknap en geverf met 'n nuwe badkamer, die koms van lente en reën, retreats, die CMR se breimarathon, aanbied en afsluiting van die Verfrissingskursus in geestelike begeleiding, bywoon van ons kleindogter Ariana se gradeplegtigheid ("Nee Oupa, dis 'n gradige plegtigheid!") voordat sy volgende jaar grootskool toe gaan. A house renovated and painted with a new bathroom, the arrival of spring and rain, retreats, the CMR's knitting marathon, presenting and finishing the Refresher course in spiritual guidance, attending our granddaughter Ariana's graduation before she goes to big school next year. Klank / Sound Die klank van sagte reën na die storm is op baie vlakke nou gepas. The sound of gentle rain after the storm is now appropriate on many levels. Met ons liefde, soos altyd. With our love, as always. George & Matilda

Vanuit Die Restory - Gesprekke Tussen Reisgenote (120)

Skuld as Motivering Die Gesprek Elemente Uit Die Gesprek ~ ❖ ~ "I am convinced that guilt and shame are never from God. They are merely the defenses of the False Self as it is shocked at its own poverty — the defenses of a little man who wants to be a big man. God leads by compassion toward the soul, never by condemnation. If God would relate to us by severity and punitiveness, God would only be giving us permission to do the same (which is tragically, due to our mistaken images of God, exactly what has happened!)." Richard Rohr                 ~ ❖ ~ "It is about as hard to absolve yourself of your own guilt as it is to sit in your own lap. Wrongdoing sparks guilt sparks wrongdoing ad nauseam, and we all try to disguise the grim process from both ourselves and everybody else. In order to break the circuit we need friends before whom we can put aside the disguise, trusting that when they see us for what we fully are, they won't run away screaming w...