Skip to main content

Sibongile en die gans

Foto deur Matilda Angus
Elke ses weke meld 25 vroue uit die omliggende omgewing op die veeplaas aan om Yvonne se 500 ganse te pluk. Hulle kom gewapen met ‘n skaapvelletjie wat op die koue sement oopgesprei word en waarop hulle dan langbeen teen die muur in die klipskuur sit . Die plukmondering  bestaan verder uit óf n dik gestoffeerde baadjie óf ‘n goingsak wat om die linkerbo-arm vasgebind is. Dis onder hierdie arm wat die gans se kop en nek ingewig word met die plukkery en waar hulle lelik geknyp kan word.

Sy kom al ‘n lang pad met hierdie span en elkeen van hulle is vir haar belangrik. Hulle is geleer hoe om die ganse te hanteer en net genoeg vere te pluk na gelang van die seisoen. Maar soos in alle werksplekke, is arbeidsverhoudinge nie altyd maklik nie.

Dit help dat sy self iZizulu vlot kan praat, maar wat haar eintlik en veral pla en waarvoor sy nie raad het nie, is dat die ganse nie met respek hanteer word nie. Dis asof hulle nie bewus is daarvan dat dit ‘n lewende wese is waarmee hulle besig is nie. Dat die manier waarop hulle hanteer word, trauma kan veroorsaak  en ‘n onrustigheid deur die hele “gaggle” stuur nie. Sy moet gedurigdeur hard praat en uitwys dat ‘n gans begin gaap omdat hy nie asem kry in die manier waarop hy vasgedruk word nie. Sommige lê letterlik op die gans, kla sy.

Ek loop met my kamera en neem fotos in die pragtige sagte lig van die skuur. Na een of twee fotos van die plukkers is daar geen omdraai nie. Ek moet by elkeen buk, vra vir ‘n glimlag en ‘n foto neem onder luide gejuig van die groep. By sommige voel ek toegeneëntheid, by ander ‘n stil selfvertroue en verdraagsaamheid met my wat skaars kan groet in hul taal. Sommige is skaam. En daar is ‘n paar wat my en die kamera uitdaag. Maar by die meeste sien ek die tekens van ‘n bitter swaar bestaan;  ‘n gelatenheid in die oë, gehawende hande, verslete skoene.

Vir my is hulle almal mooi. Ontsettend mooi. Die lig so mooi op hul donker velle en helder kopdoeke, hul pragtige wit tande. Dit is uitsonderlike fotos met die ganse wat omgedop op skote lê; die pote onder die stert saamgevat in die linkerhand, die kop en nek tussen die linkerblad en bo-arm ingewig, terwyl die regterhand vaardig pluk-pluk in kort opwaartse bewegings. Eers die laag bo-veertjies en dan van die dons daaronder.
By sommige streel ek oor die gans se ontblote maag en bors. Dis onbeskryflik sag. “Guhle,” sê ek. Mooi.

Sodra die gans gepluk is, word daar hand-opgesteek en word die gans gehaal deur Yvonne en ‘n paar jong werkers: die sterk vlerke word aan hul vashegpunte saamgevat en die lyf in die arms gesteun soos ‘n baba en na buite gedra waar hulle ontsteld wegwaggel dam toe. Die volgende gans word in die drukgang gevang en aangegee. Rofweg pluk elke vrou 20 ganse in vier ure. En die vere- en- dons –oes van so ‘n oggend is genoeg vir net 6 donskomberse en omtrent 20 kussings.

Dit alles vertel Yvonne my tussen die ganse vang, aangee, aanvat en vrylaat deur. Ek werk uit dat sy omtrent 125 ganse haarself hanteer wat elkeen rondom 3kg weeg. Dit is soos om ‘n baba 125 keer in 4 ure op te tel en neer te sit. Ek bewonder haar stamina. Maar veral die deernis in die manier waarop sy elke gans hanteer.

Sou sommige van die werkers ‘n beter slag as ander hê? wonder ek. Daar is dié wat meer ervare is en vinniger pluk as ander, verduidelik Yvonne. Sy wys ongemerk met haar kop na een van die vroue. Maar nou en dan is daar een soos sy. Sy het net vandag begin. Ek weet nie wat dit is nie, maar sy hoef byna nie eers die gans vas te hou nie. Hulle is rustig by haar. Asof hulle haar vertrou. Wat sou dit wees? vra ek. Kan jy haar nie vra wat sy dink terwyl sy so besig is met die ganse nie en dan vir die ander vertel om dit ook te doen nie? Yvonne antwoord nie.

Ek hurk lank by Sibongile. Sy glimlag gedienstig vir haar foto, maar dit is nie ‘n maklike glimlag nie. Sy dra ‘n rou-kombersie om haar skouers. Sy het nie beskerming om haar linkerbo-arm nie. Maar sy en die gans in haar skoot lyk gemaklik terwyl sy pluk-pluk. Ooglopend lyk niks anders as by die ander plukkers nie, behalwe dat sy ontspanne voorkom. Oorgegee aan dit waarmee sy besig is.

Ek dink nie dat ‘n bestaan soos hare of enige van die ander vroue vir hulle respek leer vir ‘n dier wat hoofsaaklik net as ‘n voedselbron dien nie. In Afrika word die waarde van lewe eerder gekoppel aan die mate waarin dit die mens se fisiese oorlewing ondersteun. Daar is nie regtig plek vir die waardering van lewe bloot vir lewe nie.

Nee, ek glo nie Sibongile het respek vir die gans in haar skoot nie. Miskien is dit net dat sy weet hoe dit voel om so weerloos en blootgestel te wees. En die gans weet dat sy weet.

Matilda



Comments

Popular posts from this blog

Vanuit Die Restory - Gesprekke Tussen Reisgenote (154)

Wakkerstroom Klassieke Musiekfees 2025 20 - 23 Maart 2025 “God sprei die hemel uit oor die leë ruimte,  Hy laat die aarde hang waar niks is nie.  Hy versamel die water in die wolke, en hulle skeur nie onder die las nie.  Hy plaas die horison op die see,  'n grens tussen lig en donker.  Dit is maar die begin van sy dade,  ons hoor net die gefluister van sy woorde.  Maar die volle krag van sy dade, wie kan dit verstaan?” ‭‭Job ‭26‬:‭7‬-‭8‬, ‭10‬, ‭14‬ ‭AFR83‬‬                           Dit is weer daardie tyd van die jaar! Herfs is oral sigbaar en voelbaar en daar is die geur van kreatiwiteit en voorbereidings in die lug wanneer jy ons klein dorpie binnekom. Hierdie naweek bied ons ons jaarlikse Wakkerstroom Klassieke Musiekfees aan. Wonderlike, talentvolle musikante van oral, tegniese spanne en die mense wat hulle optredes sal bywoon, stroom na Wakkerstroom. Musiek is nie die enigste item ...

Vanuit Die Restory - Gesprekke Tussen Reisgenote (150)

Wat Die Mistici Weet   2) Ons Hoef Nie Perfek Te wees Nie “Kom na My toe,  almal wat vermoeid en swaar belas is,  en Ek sal julle rus gee.  Neem my juk op julle, en leer van My,  omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is,  en julle sal rus vind vir julle gemoed.  Want my juk is draaglik en my las is lig.” ‭‭Matteus‬ ‭11‬:‭28‬-‭30‬ ‭AFR20‬ ‬                               Die Gesprek Elemente Uit Die Gesprek ~ ❖ ~ Question of the Day: How does one incorporate imperfection? In a Navajo rug there is always one clear imperfection woven into the pattern. And interestingly enough, this is precisely where the Spirit moves in and out of the rug! The Semitic mind, the Eastern mind (which, by the way, Jesus would have been much closer to) understands perfection in precisely that way. The East is much more comfortable with paradox, mystery, and non-dual thinking than the Western mind which ...

Lessons in Sunbirdish (1)

I have no way of proving that God exists. For a long, long time I believed because I didn't think I had a choice. If it is a choice between heaven and hell, you do what it takes to secure your celestial seat. Somehow I never stopped to consider why I so strongly believed in a heaven and hell, but wasn't nearly as sure that there's a God holding the keys to them. Then the sunbirds came. Slowly but surely I am being taught the dialect I need to converse with God. Or rather, to follow on what seems to be a trail that God leaves me. Being just up ahead and beckoning me all the while, it's not a chase after or a search for God, but rather a joint venture with God scouting and reporting back when my spirit runs low on this journey through life. In  A Rare Find  and  Bird on my window sill  I touched on synchronicity. I have come to believe that consciously living our moments, awakens us to the fact that there are more things in this life than meet the eyeball. Things t...