Our Town: 1943 skildery deur L.S. Lowry
“Today as I stood whipping up a new batch of cream, sunlight brightening
the kitchen, the fragrance of lavender heavy in the air, the moment felt infused
by God. Every minute detail of colour, fragrance, variety, use and beauty
matters. Everything matters. Everything speaks of care. Of love. Of God.”
Dit was daardie laaste paragraaf in Matilda se stuk Whipping up some love wat my weer die digbundel uit die boekrak laat trek het. My vingers ken teen dié tyd die paadjie al goed na Jan Swanepoel se Die ganse dag is ene God, een van my gunsteling gedigte.
soos destyds is U ook vandag
nie in die donker onweer nie, nie
in die weerlig wat die hemel
helblink skeur as teken
van u krag; al luister
ek hoe fyn vandag: selfs in die ligte
ruising van die wind is U
ten ene male nie, maar oral
in my oë en ore: die ganse dag
is ene God: ‘n swaeltjie
swenk en vou die hemel
blou-blou om sy rug ‘n geelvink
sketter vol van son, vandag
weerklink U in my kind
se skaterende skaterlag.
Die ganse dag is ene God...
Soms dreig ‘n groot moedeloosheid om oor my te spoel as
alles so verchristelik word – Christelike
musiek, Christelike literatuur, Christelike kuns. Veilig in ons
Christelik afgebakende gebiede waak ons oor God en sy belange. Asof dit wat buite
hierdie Christelike enklawes val boos
en minderwaardig is.
En die groot wye, wonderlike wêreld daarbuite? En die ganse
Goddelike dag dan? Waar het ons die idee gekry dat ons God ‘n guns doen as ons
Hom klein maak? En dat Hy beskerming nodig het?
Hy pas nie in nie. Dis die hele punt. Nie in ons boksies,
terme, dogmas of beelde nie. Hy kook oor, spat uit en spoel regoor hierdie hele
planeet van ons, die ganse kosmos in. Alles is ene God. Nie net daardie ruimtes
wat ons vir Hom gereserveer het nie.
"...hy weet nie van afsondering nie sit nie
skilderagtig geraam in die hemel nie hy is oral..."
T. T. Cloete
Dáár wil ek Hom sien, ontdek, ervaar, leer ken. Oral.
Walter Brueggemann was reg (Sien die stuk And then You). Hierdie begeerte gaan my waarskynlik meer rek as waarop ek gebargain het.
George
Gisteraand se pinksterdiens het gegaan oor 'Hoe raak geloof jou verstand?' Baie vrae is gevra oor die skepping, ons interaksie, ons nietigheid, ons waardevolheid, ens. Kom ons gebruik ons verstand om dit uit te werk. En die antwoord was: Dit is God.
ReplyDeleteInderdaad.
ReplyDeleteMens sou dit hopelik nog verder wou uitbrei: hoe raak geloof jou intuïsie, jou liggaamlikheid, jou emosies, jou ervarings? Ons in die Weste gee, voor ons ons kon kry, aan die verstand hierdie oordrewe ereplek, die spil waarom alles wentel, dié instrument waarmee ons met die wêreld omgaan. Dit trek dinge skeef en laat ons mank. God wil ons lei tot geïntegreerde lewens waar al die fasette van ons menswees saampraat en belangrik is. Selfs ons skadukant en baie ander dinge waarvoor die intellek nie die beste hulpmiddel is om tot dieper weet en insig te kom nie.
Die verrassende is dat so 'n integrasie lei tot 'n nuwe waardering vir die bydrae van die verstand as een van verskeie vermoëns wat ons volledig in ons menswees laat tick.
Ek staan telkens verstom voor God se vermoë om dinge op hulself te laat terugvou en ons met hierdie troostende paradokse te laat. Selfs die verstand kan ingespan word om tot die slotsom te kom dat hy nie alles is nie en beperk is in sy reikwydte.
Dit is God wat deur verskraling tot verruiming kan lei.