Daar word vertel van die ou oom wat jare gelede daar in die
Namakwaland geboer het. Op ‘n keer is hy op ‘n kerkraadsvergadering gekies om saam
met sy dominee en twee ander gereelde “kerkvergadering-afgevaardigdes” na ‘n
vergadering in Kaapstad toe te gaan. Die
tog is in die dominee se spoggerige nuwe motor aangepak.
Terug by die huis wou sy vrou van alles weet en hy het haar so
stuk-stuk vertel, omdat hy nie ‘n man van lang stroke gesels was nie. Hy was
meer vir kyk en luister. So het die tante dan ook eers ‘n hele paar dae later
oor die laatoggendkoffie gehoor dat hulle nogal ‘n hele ervaring op pad Kaap
toe gehad het. Die dominee se mooi kar het goed gery en die dominee was nie
bietjie trots daarop nie. Het vir hulle alles binne gewys, vertel van die ratte
se “low, second en top”. Maar by een van die erg steil bulte het dinge amper
lelik skeefgeloop. Die dominee het die bult in “top gear” stormgeloop en voet
in die hoek gesit. Maar hoe hoër en steiler dit raak hoe meer sukkel die enjin
en dis net met genade dat hulle nie “gestol”en agteruit die bult af terug is
nie. Bo-op die kruin het hulle toe ook sommer dadelik aftrekplek gesoek,
bidstonde gehou en die Here gedank dat Hy hulle in hierdie spanningsvolle
situasie bewaar het.
“Maar weet jy vrou” sê die oom so half ingedagte, “as die dominee
net die kar in ‘low’ gesit het toe ons die bult gevat het, dan was dit nie vir
ons nodig om daar bo te bid nie.”
Elke keer wanneer ek dié verhaaltjie lees, weet ek nie of ek moet
lag of moet huil nie.
George
Comments
Post a Comment