Photo courtesy of Flickr |
Party van hulle steel. Ek is daarvan amper 100% seker. Tweemaal
al, op 'n Woensdag, net mooi op die tyd as die vullislorrie verbykom, was daar
al pogings om by my huis in te breek en het die alarm hulle verjaag. Ek was
albei kere nie by die huis nie.
Van toe af probeer
ek wag tot die spulletjie verbygetrek het en ek my leë vullisdrom kan
terugsleep agterplaas toe. Dan eers ry ek. Want hulle stuur verkenners, dink
ek. Wat kyk wie is tuis en wie nie in 'n straat. Ek het die polisie
ook van my vermoede gesê. Die konstabel het my met 'n belangelose "dit kan
wees" getroos.
Maar deesdae is
die tye waarop hulle verbykom so random.
Dan staak dit vir 'n week en bly die dromme tot oorlopens toe in gelid staan in
die straat. En dan skielik hoor mens hulle elfuur in die nag in die straat
afkom!
Nou is dit net ‘n
paar weke voor Kersfees. En stadigaan begin die straat stiller word. Ekstra
versigtig wees, sê ek vir myself. Ons leef ongelukkig in ‘n honger land.
Laas Woensdag moet
ek ry om 'n paar dinge af te handel in die dorp. Net verby die sirkel hierbo,
sien ek die vullisparade en ek besluit om eers terug te draai en vir hulle te
wag om verby te kom. Ja, ek weet, dis paranoies, maar as my maag sê draai om,
dan draai ek om.
Ek reken dat dit
my tydgee vir koffie en sit die ketel aan. Ek maak die voordeur oop sodat ek
beter kan hoor en sien as hulle verbykom en sommer ook sodat hulle kan sien
daar's mense by hierdie huis! Die sekuriteitshek en groot motorhek veilig
gesluit.
Ek ken die geluide
al so goed: die lorries se kort-kort stop en luier. Hoe dit klink as die dromme
oor die teer getrek word op hul plastiekwiele. Die geluid as die hake die drom
vat ek omkeer in die bak van die lorrie. Die doefklank waarmee dit terugstamp
op die grond. Ek wag daarvoor.
Toe die lorrie naby brom gaan staan ek in die deur.
Dan hoor ek dit.
Hulle sing. In
sterk, suiwer mansstemme en in kánon. Soos wat hulle loop en dromme sleep, sing
hulle 'n Afrikalied. Die aritmiese doef en sleep en brom van die
vullissimfonie-orkes as enigste begeleiding. Ek staan in die
koelte van die huis en kyk uit na waar hulle in die Desemberson 'n werk doen
wat niemand sal kies as hy ander opsies het nie.
Ek staan doodstil
en luister terwyl hulle verbytrek; hoe die lied stadig dowwer word. Dit word
stil om my. En in my.
Ek vermoed party van
hulle steel. Maar nou weet ek, party van hulle sing ook.
Matilda
Comments
Post a Comment