Ek skryf in my joernaal met een van daardie vreeslik
algemene kliek BiC penne. Regte ou werksesels.
Wanneer ek petrol ingooi en ek betaal met my
garagekaart en ek moet die strokie teken, diep die petroljoggie een van myne se
broers op om die werk te doen. Gaan ek by die fabrieke of verskaffers deur die
hekke waar sekuriteit diens doen, wie sal ook daar aan diens wees? Meneer BiC.
Moet ek die betaalstrokie in die supermark teken na ek kruideniers gekoop het -
met ‘n BiC.
Dié wat swart skryf is oor die algemeen self swart.
Die rooies rooi. Dié wat blou skryf kom
in ‘n hele verskeidenheid kleure voor. Kleure wat na alle waarskynlikheid
snaakse name het wat ek nie ken nie. Die een van my het ‘n vreemde grys kleur,
soos iets wat met die weermag of die kleredrag van jare gelede se boere te make
het. (Moderne boere dra sulke spoggerige uitrustings met meegaande kleurskemas
dat ek hulle nie as voorbeelde vir my pen se kleur kan gebruik nie). Dan is
daar ook wit en so ‘n snaakse turkoois kleur en ek verbeel my nog ander ook,
maar dié kan ek nie nou onthou nie.
Hulle skryf elke keer! Ek meen, die omstandighede
waaronder hulle werk is oor die algemeen beslis nie klerk-werk in enige sin van
die woord nie. Dikwels, wanneer mens daardie pen vat daar waar jy moet teken,
is hy so taai van ‘n menigte vingers wat al om hom gevou het, dat jy jou gedagtes
doelbewus weghou van standerd 3 Omgewingsleer by juffrou Zeelie waar kieme en
die vermyding daarvan behandel is. Maar skryf skryf hy.
Jy’s ook nie bang jy verlê joune, of hy raak weg nie,
want hulle is só goedkoop en word by alle supermarkte en skryfbehoefte-winkels
sommer by die pakkies verkoop. Dikwels kry jy so drie in ‘n pakkie teen so om
en by R12.00 ‘n pakkie. So, ‘n pen kos jou daar in die omgewing van R4.00.
In baie opsigte is hierdie “Old Faithful” vir my die
vergestalting van die werksmense wat hulle gebruik en die algemene publiek se
ingesteldheid teenoor hulle. Dit word byna as vanselfsprekend aanvaar dat hulle
elke keer effektief sal wees, sonder dat daar met aandag ag geslaan word op
hulle spesifieke voorkoms of onderskeidende kenmerke. Die een lyk maar nes die
ander. Gee hy probleme is daar baie wat sy plek kan inneem en relatief goedkoop
daarby. Dis beslis nie die einde van die wêreld wanneer jy een verloor nie. Hy
kan by alles so goed en effektief wees as wat hy wil, maar hy word net nie in
dieselfde liga as ‘n Waterman, ‘n Sheaffer of Parker geag nie. Die geselskap
waar hy ingenooi word en diens doen, spreek vanself.
Ek skryf met ‘n BiC in my dagboek wanneer ek aan die
nageslag van die pen vertel wat ‘n wesenlike deel van ‘n land se ekonomie is.
Comments
Post a Comment