Note: This is a piece written in Afrikaans. It is my mother tongue and therefore I sometimes need to let rip in it in order to express myself without the constraints of having to really think (as in using the right tenses and getting the right word). I will gladly translate it if need be. Please let me know!
My flower, seek not thy paradise in a fool’s buttonhole. - Tagore
Hierdie is my quote of the moment. Nou al vir die afgelope twee jaar!
Hoe kan ek dit stel? Wat maak dat iets daardie inklikklank maak as ek dit lees? Asof iets net reg lê en presies in plek gedruk word – soos ‘n verlore legkaartstukkie wat onder die mat uitkom en in sy plekkie inklik met ‘n piepklein sug van verligting.
Daar is nie baie sulke aanhalings nie. Wel, daar is, maar dis ‘n klein hoop teen dit wat mens als lees en sorteer na die Snert, Oulik, Hmm, Waar, en Sjoe hope. En anders as die ander hope, is hierdie een gloeiend warm – dit stoom behoorlik. Gloei. Heeltyd. En dit ruik reg. Soos iets lewendigs en vars. En wraggies, dit groei ook! Oral op die hoop is daar uitspruitsels uit elkeen van die gloeiende sade en elkeen lyk anders. Sy blare en blomme is elkeen allerpragtigs en uniek. Almal rankers. Almal met bessies of vrugte. Almal eetbaar en hoogs voedsaam.
En selfs al sou mens dit nie geëet kry nie, gaan dit nooit verlore nie. Dit vorm kompos vir die nuwes wat bo-op groei. OK, enough already met dié beeld...
Hierdie een is so een. Ek wil heeltyd ‘n hap vat, kou en proe. Dit laat smelt. Die smaak daarvan lank nog in my hou en met niks anders bederf nie. Daar gaan ek alweer...!
Maar dis juis die brijantheid van die beeld wat Tagore met een kort sin daar neersit wat my so fassineer. Wat hy sê! Vir my part kon hy maar die fool uitgelaat het. ‘n Knoopsgatruiker was nog altyd vir my sotlik. Daar bestaan nie iets soos ‘n wise man’s buttonhole nie.
En dit verbind onmiddelik in my met die insigte oor in die oomblik leef en egwees en als wat reg en goedvoel en intuïsie en passie. Want dis iets waarteen elke oomblik getoets kan word. Vir my beteken “paradys” ‘n plek van groei en wasdom bereik. Van blom en vrugdra in die perfekte toestande vir my spesifieke aard.
Dus kan ek in elke oomblik vra: Is dit wat ek nou eet/koop/doen/dink/wil hê/maak ‘n knoopsgat of ‘n ryk grondbedding? Maak dit my groei? Of sny dit my los van my wortels en is ek eintlik besig om te verlep aan die glamorous bors van my keuse? (Erger nog, wanneer is ‘n blom dood? Ek dink die oomblik as dit gesny word. Ek sal met hierdie gedagte NOOIT weer ‘n blom kan sny en in my huis sit nie. Eintlik is dit nie dadelik dood nie. Dis sterwend. Hel, dis nog erger!)
Maar kom ek bly by die metafoor. Die kuns is om almeer uit te vind wat grond is en wat gat is. Om te weet wat my voed, en dit kan selfs soms ‘n minder lekker iets wees, soos ‘n mammogram, maar dis nodig, want dit hou my ingelig. Of dit kan dalk duurder wees as die gatkeuse, soos om organies te koop en te eet, want dit hou my gesond. Dit kan onuitspreeklik moeilik wees, soos om uit ‘n afbrekende verhouding te stap. Maar dit kan net so onuitspreeklik heerlik wees, soos om aan ‘n diep liefde uiting te gee. Om een of ander rede sukkel ons soms om te vertrou dat dit wat vir ons werklik goed is, werklik toegeëien mag word. Asof ons ons wortels net vlakweg toelaat in die paradysgrond.
Vir my sal ander dinge groei beteken as vir jou. Noodwendig. Want ‘n varkoor groei die beste in water en ‘n karoobossie daarsonder. Proteas het wind nodig en rose moet gereeld gesnoei word.
My grond/gat lys(geen spesifieke volgorde nie, net maar soos dit by my opkom):
Grond Gat
Orde Perfeksie
Skoonheid, gemeet aan wat bloot IS Skoonheid, gemeet aan algemene standaarde
Natuurlik, eg, eerlik Vals
Ongerep Gerep om aan verbruikersverwagtinge te voldoen
Als is maar redelik in die lug as mens dit so probeer lys! Dis dalk beter om dit in voorbeelde te illustreer.
Ek’s in grond as ek orde in my lewe het. Wat die inhoud van my laaie, roetine en my gedagtes aanbetref. Maar wanneer ek ‘n TE daaraan heg, raak dit ‘n gat. As ek net heeltyd besig is om te orden of vasval in ‘n dodelike roetine of net heeltyd my gedates probeer uitsorteer, dan moet ek weet – KNOOPSGAT!
Wanneer ek iets koop/kry/maak/aantrek omdat dit vir my onontbeerlik is omdat dit óf vir my só mooi is, of werklik nodig is (soos William Morris gesê het – Have nothing in your house that you don’t deem to be beautiful or necessary), is dit ‘n grondding. As ek iets koop omdat dit goed sal lyk vir ander of bloot goedkoop is of ‘n gat moet volmaak of ... KNOOPSGAT!
Mens kan ‘n legio voorbeelde noem, maar dit kook als weg tot daar net die essensie oorbly. En dit, lyk dit my, as ek mooi daaraan ruik en proe is – egtheid. Eerlike, regte egte ware leef. Met dit wat in elke oomblik net reg in my kom lê, of wat ek wegstoot met ‘n besliste “Nie vir my nie, dankie.”
Dit is ‘n klomp goed wat gat toe gaan, dan! Dis vakansieoorde met vergulde bedstyle en plastiekpalms, dis kos met hope kleur en preserveermiddels. Dis batteryhoenders en afbrekende verhoudings. Dis sintetiese klere en skinderpraatjies. Dis te min slaap en te veel eet. Dis te min of te veel oefen. Dis lag as ek wil huil. Dis ja as ek wil nee en dis nee as ek wil ja. Dis afskeep en dis oordaad. Dis ontken en misken. Dis wantrou en dis ontrou. Dis moets en moenies. Dis behoort-te en even-if-it-kills-me.
Ek pryk nog in ‘n duisend knoopsgate. Maar net dalk, word dit vandag aand en word dit môre. Die dag waarop ek in paradysgrond ontkiem.
Matilda
Comments
Post a Comment