Skip to main content

Nefertiti van die Wilgerivier

Borsbeeld van Nefertiti - Berlin Neues Museum


Ek weet nie veel van die oorspronklike Nefertiti nie. Net dat sy Egipties was, dink ek? Ek kan haar natuurlik gaan Google, en daar is ‘n baie mooi gedig van Hennie Aucamp, wat George vir my sommer so uit die vuis uit aanhaal, maar sy is ‘n vae begrip in my kop wat grootliks net gekoppel is aan hoe sy gelyk het volgens oorlewering: 'n Statige koningin met 'n baie hoë hooftooisel en 'n mooi Egiptiese profiel.

NEFERTITI

Sy dra op haar lang nek versigtig

Haar kop soos ‘n kruik wat kan breek

En tereg – want haar Hollywood masker

Het reeds in die een oog verbleek.



Dis daardie “look” wat my hierdie Nefertiti laat opmerk het. Sy staan in ‘n effense hoek wat gevorm word deur die reuse klipformasie van die kranse by Linda en Pieter se naweekplekkie naby die Wilgerivier. Dit is vir my 'n hoogtepunt om uit te stap op die dek sodra ons daar aankom en in haar rigting te kyk. Sy is altyd daar. Met een arm gemaklik op die rotslys gerus en die ander een ontspanne skuins oor haar lyf. Amper soos iemand wat met die rug teen ‘n reling van ‘n paleisbalkon staan.
     Sy kyk altyd stip na my. Met haar kop hoog maar nie afsydig nie. Asof sy die omgewing net soveel soos ek geniet en my nooi om te kom gesels.
     Haar klere is pragtig – mosgroen en gryswit met patrone van ligene en blaarskadu’s wat oor haar lyf speel asof sy op die plek staan en lig wieg in ‘n dans op die maat van die wind en voëlsang om haar.
     Haar hoë hooftooisel is soms heeltemal sonder versiering, maar in die reëntyd is daar lang graspluime wat hoog bo haar kop in boë terugtuimel na haar skouers.
     Ek stel my voor dat sy na sononder, en wanneer ek haar nie meer kan uitmaak in die rotswand nie, omdraai en deur die onsigbare poort in die kamers van die kranspaleis instap.
     Daarbinne word sy op die hande gedra, by sagte lig gebad in ‘n bergpoel wat die dag se son ingedrink het en nou varsgemelk warm is. Sy loop in gange en portale waar fyn plantwortel-gordyne hang en stalagmietpilare maanlig opvang deur rotstregters wat soos reuse swamme onderstebo van die rotsdak hang.
     Oral waar sy gaan laat haar warm kyk en haar sagte glimlag almal voor haar buig en agter haar rimpelend verwonderd fluister. Nefertiti, Nefertiti, is so mooi vanaand. 
     Dan gaan sit sy in ‘n poel van tregtermaanlig en al die rotskinders kom sit digteen haar of op die kleed wat rondom hulle spoel soos ‘n sagte skuimgolf. En sy vertel hulle van alles wat sy op haar rotspos gesien en beleef het daardie dag.
     Vandag, sê sy, het die rooivlerkspreeus se twee kleintjies uit die nes gekom. Die nes waarvan ek julle vertel het wat net so skuins regs bo my in die rotsgleuf gemaak is. 
     Dit was senutergend! Die kleintjies moes van die oop rotswand weggekry word voordat die meerkatte, muishonde en selfs die slange agterkom dat daar natvlerkies besig is om hul eerste vlug aan te durf. 
     Ma en Pa Spreeu was naderhand gedaan gesukkel. Uitasem en oopbek en met hees, desperate stemme bly hulle soet roep vanuit die bome oorkant die rotsmuur. Vinja, Vinja, kom tog, vlieg tog! Dan weer terug en besig om hul aan te por om die gevaarlike dun rotslysie te groet. 
     Op die dek van die huisie onder die bome het ‘n mensvrou gesit en skryf. Sy het ook die spreeus dopgehou en soms senuagtig op en af op die dek geloop omdat sy met ‘n verkyker veel nader kon sien as ek van my plek in die rotswand. 
     Toe skielik, teen laatmiddag, vlieg drie spreeus digby my kop verby. Pa, Ma en een van die kleintjies. Op die dek was daar uitroepe van verligting en groot opgewondenheid toe Vinja op die klipmuurtjie reg agter die dek haar eerste vlug halt om asem te skep. 
     Die mensvrou het sag gekoer, net soos die spreeuma, om die klein bang spreeutjie te vertel dat sy nou veilig is. Haar ma het ‘n ent weg gesit. Heeltemal uitasem maar vasbeslote om haar hele kroos veilig te kry. Weer heen en weer, heen en weer, totdat die ander klein Vinja ook sy vlerkies oopgemaak en die veilige lug in is. 
     Ek en die mensvrou het lank vir mekaar gestaan en kyk daarna. Net gekyk. Sy is vir my baie mooi. Met haar twee bene en haar los vingers wat ‘n pen kan vashou of ‘n verkyker voor haar oë kan hou. 
     Maar ek weet dat sy ook graag sou wou wees waar ek is. Om so stil en seker te kan staan in wind en weer. Om toe te laat dat die berg alleen haar klee in die seisoene se kleur en teksture. Om so vry te kan wees. Soos wat ons is. Ons wat weet klip en klei en been is een en dieselfde. Ons wat weet dat een asem ons almal laat bestaan. ‘n Asem wat vandag saam opgehou is om die spreeutjies veilig uit die nes te sien kom. 


Matilda

Comments

Popular posts from this blog

Vanuit Die Restory - Gesprekke Tussen Reisgenote (154)

Wakkerstroom Klassieke Musiekfees 2025 20 - 23 Maart 2025 “God sprei die hemel uit oor die leë ruimte,  Hy laat die aarde hang waar niks is nie.  Hy versamel die water in die wolke, en hulle skeur nie onder die las nie.  Hy plaas die horison op die see,  'n grens tussen lig en donker.  Dit is maar die begin van sy dade,  ons hoor net die gefluister van sy woorde.  Maar die volle krag van sy dade, wie kan dit verstaan?” ‭‭Job ‭26‬:‭7‬-‭8‬, ‭10‬, ‭14‬ ‭AFR83‬‬                           Dit is weer daardie tyd van die jaar! Herfs is oral sigbaar en voelbaar en daar is die geur van kreatiwiteit en voorbereidings in die lug wanneer jy ons klein dorpie binnekom. Hierdie naweek bied ons ons jaarlikse Wakkerstroom Klassieke Musiekfees aan. Wonderlike, talentvolle musikante van oral, tegniese spanne en die mense wat hulle optredes sal bywoon, stroom na Wakkerstroom. Musiek is nie die enigste item ...

Vanuit Die Restory - Gesprekke Tussen Reisgenote (150)

Wat Die Mistici Weet   2) Ons Hoef Nie Perfek Te wees Nie “Kom na My toe,  almal wat vermoeid en swaar belas is,  en Ek sal julle rus gee.  Neem my juk op julle, en leer van My,  omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is,  en julle sal rus vind vir julle gemoed.  Want my juk is draaglik en my las is lig.” ‭‭Matteus‬ ‭11‬:‭28‬-‭30‬ ‭AFR20‬ ‬                               Die Gesprek Elemente Uit Die Gesprek ~ ❖ ~ Question of the Day: How does one incorporate imperfection? In a Navajo rug there is always one clear imperfection woven into the pattern. And interestingly enough, this is precisely where the Spirit moves in and out of the rug! The Semitic mind, the Eastern mind (which, by the way, Jesus would have been much closer to) understands perfection in precisely that way. The East is much more comfortable with paradox, mystery, and non-dual thinking than the Western mind which ...

Lessons in Sunbirdish (1)

I have no way of proving that God exists. For a long, long time I believed because I didn't think I had a choice. If it is a choice between heaven and hell, you do what it takes to secure your celestial seat. Somehow I never stopped to consider why I so strongly believed in a heaven and hell, but wasn't nearly as sure that there's a God holding the keys to them. Then the sunbirds came. Slowly but surely I am being taught the dialect I need to converse with God. Or rather, to follow on what seems to be a trail that God leaves me. Being just up ahead and beckoning me all the while, it's not a chase after or a search for God, but rather a joint venture with God scouting and reporting back when my spirit runs low on this journey through life. In  A Rare Find  and  Bird on my window sill  I touched on synchronicity. I have come to believe that consciously living our moments, awakens us to the fact that there are more things in this life than meet the eyeball. Things t...