Skip to main content

Klein Kaper

Eerste foto van die klein kaper deur Matilda Angus
Woensdag is dorpdag hier by ons. Dan vertrek ek redelik vroeg Newcastle toe om die week se kruideniers te kry en ander besigheid te doen. Dis 'n hele 45 km soontoe, waarvan so 16 km grondpad is. Ek ry dit versigtig met my laaglopende Volkswagen Polo. Die bande is ook maar nie geskik vir hierdie tipe paaie nie. Ek voel dikwels soos 'n Victoriaanse dame wat haar onderrokke hoog wil oplig om met haar kant slippertjies versigtig tussen die klippers deur te trap.

Die oorblywende 29km is teerpad en dan maak ek op vir verlore tyd. Gewoonlik stop ek so binne 'n halfuur na vertrek voor Checkers by Amajuba Mall.

Hierdie Woensdag was nie anders nie, behalwe dat ek gekaap is.

Dit is met die stop by die kraletjiewinkel dat twee vroue, wat buite die winkel staan, my inlig dat hulle 'n kat in my kar, meer spesifiek, in die enjinholte, hoor huil het toe ek daar stilhou.

Ek skrik my boeglam, sien nare voorspooksels van my Milykat wat halfverbrand tussen die manifold en die waaier lê, maak met 'n naar maag die enjinkap oop, soek tussen die baie goeters in en om die enjin, kyk onder die kar en in die holtes agter die wiele. Niks. En geen geluid nie. Maar ons is net in die winkel of die gemaaiu begin weer; baie benoud en defnitief in die omgewing van my kar.

Ons soek weer. Niks. Maar sodra ons wegbeweeg van die kar klink die gemaaiu op. Die kar langs my word ook deursoek. Niks. 'n Pragmatiese man kom nader en help soek. Hy besluit dit is iemand wat êrens versteek sit en ons 'n poets bak.

Ons is dankbaar vir so 'n maklike oplossing en ek ry verder tot by die lapwinkel. Dis nou ongeveer 50km weg van die huis af. Ek is skaars by die deur van die winkel of die gemaaiu klink op.

Ek het 'n kat in my kar.

Maar waar? Ek ry na 'n Kwik-fit en vertel my storie vir die bestuurder. Hy is skepties, ek sien dit op gesig maar met die soveelste oopmaak van die enjinkap loer die gesiggie agter die lugfilter uit. Soos 'n skim verdwyn dit weer en spandeer ons die volgende uur met die kar op die hyser. Met flitse en handskoene aan soek 'n hele span na die spookkat en weer net vir 'n oomblik sien ons die ligte pelsie voor dit in die bakwerk agter die linkerwiel inverdwyn.

Ten einde laaste word die hele paneel losgeskroef en uiteindelik staan 'n werker met die bondeltjie in sy hande. Glad nie vreeslik wild nie, maar erg verwilderd, sit ons hom in 'n boks en ek is verder vort terwyl hy sy treurmare voortsit.

Ek ry en dink hoe so iets kon gebeur het. Ek dink ook hoe ek nou al vir maande nie toegee aan 'n vertedering wat in my opstaan elke keer as ek die pragtige klein plaaskatjies by Debbie en Carene-hulle sien. Hoe weerstaan mens 'n babakatjie? Ek doen dit met my rasionele denke wat in geen onduidelike terme my herinner aan die prys van katkos, veeartse en die homeopatiese druppels wat Mily chronies moet gebruik vir 'n tandvleis-infeksie. Ook hoe moeilik dit was om Mily en die honde met mekaar te versoen en hoe moeilik twee vreemde katte bymekaar aanpas. Ek dink aan reelings wat getref moet word wanneer ons vir 'n paar dae weggaan. Teen daardie tyd is ek reg om die katjies net op 'n afstand te geniet.

Ons sit eers later twee en twee bymekaar: Maandagmiddag het ons by die Schoemans gaan kuier. Hulle bly net buite Volksrust, so 30km van ons af. Daar is, soos op menige plaas, 'n mengelmoes half-wilde katte wat die store en buitegeboue muisvry hou. Hulle word elke dag met melk bederf, maar in die huis kom hulle nie. Dit is nie katte met name nie. "Ons gee hulle maar soortvan groepname," se een van die Schoemankinders.

Een van hierdie groepkatjies moes in die kar se bakwerk ingekruip het en het die rit terug Barrowfield toe, twee nagte en 'n Jeugdag en nog 'n rit Newcastle toe, daarbinne oorleef! Ons dink nie te veel aan wat sou gebeur het as hy in die ry probeer uitklim het nie. En dit is onverklaarbaar dat hy skynbaar nie geweet het hoe om daar uit te kom nie.

Ek vang myself dat ek verskriklik bly voel oor die nuwe klein lewetjie in die huis. My kop se redenasies is geblus. Hier is iets groters aan die werk.

Naamgee kom moeilik; niks wil werk nie. Ons oorweeg Polo, Frikkie, Benjamin, Schoeman, Hide, Uitverkiesingsleer, Rumi, Wroemie en Ghandi. Vir 'n hele dag is hy Manley Hopkins. Omdat Mily na Emily Dickinson vernoem is en Gerard Manley Hopkins verdien om so vereer te word.

Maar dan vanoggend daag sy naam op: Patat. Soos in warmpatat. En hy is net mooi die binnekleur van 'n gebakte patat. Wat hy baie amper was.

Matilda

Comments

Popular posts from this blog

Vanuit Die Restory - Gesprekke Tussen Reisgenote (110)

Die Week Na 'n Dood Sebastien op sy gelukkigste - by water, besig om vis te vang Die Gesprek Elemente Uit Die Gesprek Musiek Sebastien het altyd gesê, "I like old music.' Hy het. Billy Joel se Piano Man  was vir baie lank die ringtone op sy foon. Dat ons só gelukkig kan wees, dankie Sebas. George & Matilda  

Vanuit Die Restory / From The Restory (135)

  Onlangse Oorsig / Recent Summary  Foto's Van Onlangse Gebeure / Pictures Of Recent Events 'n Huis opgeknap en geverf met 'n nuwe badkamer, die koms van lente en reën, retreats, die CMR se breimarathon, aanbied en afsluiting van die Verfrissingskursus in geestelike begeleiding, bywoon van ons kleindogter Ariana se gradeplegtigheid ("Nee Oupa, dis 'n gradige plegtigheid!") voordat sy volgende jaar grootskool toe gaan. A house renovated and painted with a new bathroom, the arrival of spring and rain, retreats, the CMR's knitting marathon, presenting and finishing the Refresher course in spiritual guidance, attending our granddaughter Ariana's graduation before she goes to big school next year. Klank / Sound Die klank van sagte reën na die storm is op baie vlakke nou gepas. The sound of gentle rain after the storm is now appropriate on many levels. Met ons liefde, soos altyd. With our love, as always. George & Matilda

Vanuit Die Restory - Gesprekke Tussen Reisgenote (120)

Skuld as Motivering Die Gesprek Elemente Uit Die Gesprek ~ ❖ ~ "I am convinced that guilt and shame are never from God. They are merely the defenses of the False Self as it is shocked at its own poverty — the defenses of a little man who wants to be a big man. God leads by compassion toward the soul, never by condemnation. If God would relate to us by severity and punitiveness, God would only be giving us permission to do the same (which is tragically, due to our mistaken images of God, exactly what has happened!)." Richard Rohr                 ~ ❖ ~ "It is about as hard to absolve yourself of your own guilt as it is to sit in your own lap. Wrongdoing sparks guilt sparks wrongdoing ad nauseam, and we all try to disguise the grim process from both ourselves and everybody else. In order to break the circuit we need friends before whom we can put aside the disguise, trusting that when they see us for what we fully are, they won't run away screaming with, if nothing wors