Vandag Praat Ons nie
Die eienskap wat vir ons die sterkste uitstaan van Tafelkop, is die mis. In die 9 maande wat ons nou hier bly, was en is dit ‘n konstante – winter en somer, vroegoggend, laatmiddag, teen skemer wanneer ons gaan stap, dan kom die mis ingerol deur die keep waar die pad deur Kastrolnek gaan. Asof dit die heeltyd teen die agterkant van Tefelkop druk, die opening ontdek, deurbreek en oor dakke, werwe, lande spoel. Met die digte sluier oor alles getrek, weet ons daar is steeds groot bome in die laning. Ons hoor hulle drup. Verder is dit doodstil.
Tussenin. Nie heeltemal reën nie en nie heeltemal lug nie. Nie totaal donker nie, maar ook nie regtig lig nie.
Vandag is Stil Saterdag.
Die mistige dag. Êrens tussen dood en lewe, waar iets verby is, maar die nuwe nog nie is nie. Waar die bekende bakens wat ons koördinate verskaf en ons veilig laat voel weg is. En vae buitelyne geen aanduiding van nuwe lewe is nie.
In die Gereformeerde tradisie waarin ons grootgeword het, was Stil Saterdag ‘n nie-dag. Nie Goeie Vrydag nie en nie Paassondag nie. Net maar Saterdag waar die hardewarewinkel darem oop is, sodat jy die goed kan koop vir die los herstelwerk wat oor die langnaweek gedoen kan word. Net maar ‘n dag.
Buitendien, so het ons geglo, het ons ‘n opstandingsgeloof en leef ons ‘n oorwinningslewe. Paassondag is eintlik ons dag.
Dis nie net ‘n Gereformeerde trek nie. Eintlik is dit algemeen menslik. Ons word deur oorwinning en bruisende lewe getrek soos ‘n mot deur ‘n kers.
Dis asof selfs die Evangelieskrywers direk van Vrydag na Paassondag gespring het. Net Lukas noem vlugtig in Luk 23:56 dat hulle op die Sabbat gerus het.
Goddank, daar is opstanding en lewe. Wat ‘n groot gawe is die nuwe en ontwaking nie.
Ons sou egter die hart van Jesus se boodskap en wat die gebeure rondom Pase aan ons wil oordra, miskyk indien ons net op die opstanding sou fokus. Dit gaan oor lewe, beslis. Maar dit gaan eintlik oor ‘n patroon: dood, wag, lewe; dood, wag, lewe…
En as ons doodeerlik moet wees, leef ons die grootste gedeelte van ons lewens in Stil Saterdag. Waar ons nie mooi seker is nie en die buitelyne van bakens vaag is. Waar ons dikwels voel-voel loop.
Vandag praat ons nie. Ons het nie ‘n opname van ‘n gesprek nie. Ons is stil in die hoop dat hierdie ryk dag ons sensitief sal maak om te weet dat God ook in die tye is waar ons doodgewoon nie mooi weet nie. Waar dit net ons ervaring is wat ons met sekerheid kan laat sê dat in vandag se video ‘n berg afgeneem is.
Met baie liefde.
George & Matilda
Comments
Post a Comment