Ons nooi jou uit na die Kontemplatiewe Samekoms in Wakkerstroom oor die naweek van 8-10 Augustus 2025.
Wat is Christelike Kontemplatiewe Spiritualiteit?
Christelike kontemplatiewe spiritualiteit is ’n eenvoudige, stil manier van bid en leef, waar ’n mens leer om teenwoordig te wees by God — sonder baie woorde, net met ’n oop hart.
Dis nie ’n nuwe idee nie. Dis gewortel in die Bybel en die vroeë kerk, waar gelowiges stil geword het om God se teenwoordigheid te ervaar. Dit gaan nie oor spesiale tegnieke of vreemde idees nie, maar oor rus in God se liefde — soos Maria wat aan Jesus se voete sit (Lukas 10:39).
Ongelukkig was hierdie eenvoudige, stil manier van leef en bid nooit ’n sterk stroom in die kerk nie. Ons was dikwels meer ingestel op doen, praat, en ingewikkelde leerstellings. Maar vandag is daar ’n herontdekking aan die gang — ’n herlewing van hierdie ou, Bybelse pad.
Klein groepies kontemplatiewes begin orals opduik. Tog kan dit ’n alleen-reis wees. Om te weet van ander wat ook leer om stil te wees voor God, kan ’n groot bemoediging wees.
Dis hoekom ons opgewonde oor hierdie samekoms is - ’n plek van kennismaking, ondersteuning, inligting-uitruil, en saam dink oor die pad vorentoe.
Ons hoop dit word ’n jaarlikse instelling. Kom luister, kom deel, kom wees saam stil.
Let asseblief daarop dat dit nie ‘n retreat is wat by The Restory Retreat Centre aangebied word nie. Dit is ‘n samekoms in die dorpie Wakkerstroom, waar meer mense in die verskillende fasiliteite geakkommodeer kan word en die meditatiewe sessies, groep- en paneelbesprekings gaan plaasvind. Die pragtige kerkgeboue op die dorp gaan oop wees vir diegene wat hul stilte wil opsoek. Die kontemplatiewe erediens die Sondagoggend word deur dr Barry van der Merwe gelei.
Vir meer inligting en die skakel na die besprekingsvorm:
George & Matilda


Comments
Post a Comment