Foto deur Lien Botha
Dave Pepler skryf in sy pragtige boek Immergroen. Stories oor plante:
“My voorstoep kry die son uit die weste en dit bak
soos ‘n hoogoond. Op elke trappie het ek ‘n erdepotjie met ‘n vygie daarin, die
bogrond toegepak met koffiekleurige spoelklippies. Soggens, as ek koffie drink op
die boonste trap, bekyk ek hulle. Byna so immobiel soos fossiele staan hulle
jaarlank tot daar skielik, oornag, ‘n blomknoppie verskyn. Daardie dag probeer
ek tuisbly en wag tot die son tref, want ek weet dat die blom net vir my gaan
bloei.
Vygies gee jou plesier op ‘n stil manier. Hoe soet
klink die volksname nie – ghoena, ghôkum, steekvy, kougoed, vingerkanna,
brakslaai, asbos, loogslaai, haasballetjies, kirriemoer... Het jy al
suurvy-konfyt geproe? Gaan soek, want daar is nog enkeles wat dit kook. Maar,
bowenal beloon vygies jou met hul dankbaarheid en uitbundigheid. Uit dorheid en
grint, teen middag, breek hulle die lig.”
Dit vra om saam met Marlene van
Niekerk se nota aan die stadsraad gelees te word. Wanneer my dag teen so ‘n tempo voortstorm
dat dit voel asof hy by sy nate begin ratel en lostrek, dan trek ek hulle nader. Ek het nodig om te hoor dat die lewe meer is as spertye en werk. Daar is kleur en son. Hulle
dans, selfs al let ek nie op nie. Maar ai, wanneer ek wel die slag raaksien –
geen beter doepa nie!
George
Comments
Post a Comment