Eksistensiële Gesondheid
Midde-in Realiteit; Jou eie Outeur; Ongeleende Betekenis
Die Gesprek
Elemente Uit Die Gesprek
Kreatiewe Stuk
Hierdie week se kreatiewe stuk, 'n skildery, gaan eintlik meer oor die skilder as oor die skildery self. By dié stil, inkennige man kan mens 3 kenmerke van eksistensiële gesondheid sien.
L.S. Lowry, die Britse skilder wat "Going to the Mill" in 1925 geskilder het, het sy realiteit, die industriële stad Manchester, vierkantig in die oë gekyk. Terwyl ander die industriële stede van die tyd as lelik en kru beskou het, het Lowry die skoonheid, die eensaamheid en die menslikheid daarin gesien. Hy het nie 'n kunsmatige, verhewe wêreld geskilder nie; hy het die raakpunt met die werklikheid geskilder.
Om sinvol te rus, vra dat ons, soos Lowry, ophou om te wag vir 'n "ideale" of "perfekte" wêreld voor ons tot stilstand kom. Dit vra dat ons die realiteit van ons daaglikse lewe met sy meule, sy rook en sy onvolmaaktheid in die oë te kyk, en om té midde daarvan te kies om stil te staan en by jouself uit te kom.
Lowry se ma het sy kuns hardnekkig afgekeur en afgekraak. Sy wou gehad het hy moet 'n "respektabele" professionele man wees en het sy donker, industriële tonele as lelik en minderwaardig afgemaak. As hy haar "draaiboek" gevolg het, sou hy sy talent onderdruk het om aan haar ideaal van die "goeie seun" te voldoen. Dit sou 'n geval wees van "Living from Borrowed Meaning". Teen haar besware in het hy snags, wanneer die huis stil was, sy eie betekenis geskep.
Wanneer ons lewe gerig word deur 'n sterke interne "Kritikus", of vir vroue wat grootgemaak is met die sosiale druk om altyd te dien en te sorg, is daardie interne stem baie soos Lowry se ma. Dit sê: "Jy mag nie net sit en niks doen nie. Dit is nie reg nie. Jy moet nuttig wees."
Lowry moes die moed kry om die "skrywer van sy eie lewe" te word (Self-Authorship). Hy moes kies om sy eie realiteit en sy eie roeping te omhels, selfs al het dit nie die goedkeuring van die belangrikste figuur in sy lewe gekry nie.
Musiek
Hoe op aarde sluit Antonio Vivaldi se “Cum dederit” uit Nisi Dominus, RV 608 (vierde beweging) by hierdie week se tema aan?
Die teks van Cum dederit kom direk uit Psalm 127:2 (in die Latynse Vulgaat) en sluit byna naatloos by die tema van rus, ons realiteite en die stryd teen die interne kritikus aan.
Die volledige vers uit Psalm 127:2 lui in Latyn: "Vanum est vobis ante lucem surgere: surgere postquam sederitis, qui manducatis panem doloris. Cum dederit dilectis suis somnum..."
Wat vertaal, só klink: "Dit is tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat gaan slaap, en die brood van pynlike arbeid eet - want Hy gee dit aan sy geliefdes in die slaap (of terwyl hulle rus)."
Hierdie teks is 'n direkte, eeue-oue waarskuwing teen die menslike neiging om van die vroegoggend tot die laatnag te swoeg en hulself te dryf ("panem doloris" – die brood van pyn/angs). Dis die uitnodiging van Cum dederit, 'n wiegelied vir die moeë gees, wat herinner dat die lewe se diepste geskenke soos genade, herstel en betekenis, nie gegee word aan diegene wat hulself uitput nie, maar aan hulle wat waag om te rus.
Met ons liefde en die begeerte - vir jul elkeen meer van die waarheid en ritme van Cum dederit.
George & Matilda





Comments
Post a Comment